Advice and Support for South Africans Immigrating to New Zealand

South Africans Going To New Zealand

Author Topic: Emigrasie-som is eenvoudig  (Read 1403 times)

Offline yolanda

  • Newbie
  • *
  • Posts: 33
Emigrasie-som is eenvoudig
« on: February 12, 2007, 07:21:42 am »
Emigrasie-som is eenvoudig
Feb 08 2007 09:28:09:657AM  - (SA)   

 Druk artikel 
 E-pos storie aan 'n vriend

 
 
Louise Pretorius
'n Mens maak jou eie geluk, glo ek. Met ander woorde, daardie toestand van tevredenheid met jou lot, kom van binne af. 'n Interne lokus van kontrole noem sielkundiges dit - die wilsbesluit dat jy jou lewe stuur en dat jy nie net 'n willose slagoffer is van jou omstandighede nie.

Dit maak dus nie saak waar jy in die wêreld bly nie, of jy na 'n ander wêrelddeel emigreer nie, dit is jou keuse hoe jy jou daarna skik.

Dit help natuurlik as jou omstandighede, jou breër wêreld, 'n geordende, vreedsame een is. Mens kan nie juis oor jou eie lot besluit as jy nooit weet watter hooggerookte beroepsmisdadiger met 'n onwettige wapen besluit dis vanaand jou en jou gesin se beurt nie.

En soos emigrante oor eeue heen beskou talle mense in Suid-Afrika hulle omgewing voortdurend en bereik sommige die punt van "tot hier toe en nie verder nie".

Die keerpunt is nie bloot net die verskriklike misdaad nie. Dis maar net een aspek van 'n groter prentjie. Dis ook die politieke retoriek wat net nie lekker op die oor val nie, die manier waarop sosiale herrangskikking plaasvind wat nie wil vlot nie, die algemene verval, en die benoudheid oor wat gaan word in die toekoms. Nà Mandela. Nà Mbeki.

Dis dan dat jy op 'n stadium besluit om Suid-Afrika te verlaat, omdat jou kanse om 'n slagoffer te word, groter is as in enige ander soortgelyke eks-koloniale Engelssprekende land. Of die kans dat jy jou oudag agter tralies en in vrees moet deurbring, terwyl jou kinders padgee.

Jy emigreer dan liewers voor iets (erger) (weer) met jou gebeur. Of met jou gesin. Of sommer net omdat jy nie langer so wil lewe nie. Omdat in ander dele van die wêreld, kinders in strate speel, mense saans laataand onder die sterre kuier, die parke oop le vir die wat daar wil ontspan, jou beroepsondervinding nog steeds erken word, die geleenthede vir jou kinders oople, die omgewing jou lewenswaardes en lewenstyl ondersteun.

Dis nie maklik nie ons sê hierdiekant emi/immigrasie is nie vir sissies nie.

En tog, dit bly vir my verbasend hoe mens na twee jaar in 'n nuwe land agterkom jou lewe is terug by normaal, met dieselfde plesiere en lekkerkry en gekoesterdheid van vroeër. Dat jy ingroei in jou nuwe land in, sonder dat jy dit eers agterkom.

Hoe jy 'n hele nuwe vriendekring van interessante mense opbou.

Hoeveel jy en jou agtergrond en kultuur hier aanvaar word, nadat jy aanvanklik so bang was jy sou altyd die immigrant wees.

Mens moet egter nooit die fout maak om Suid-Afrika elders te gaan soek nie. Suid-Afrika is enig in sy soort. Maar so is elke plek in die wêreld uniek, met sy eie eienskappe en kwessies. Die paradys, dit bestaan nie op aarde nie. Vrede wel.

My mede-expat vriendin stel dit so:

"Nieu-Seeland is nie Suid-Afrika sonder die probleme van Suid-Afrika, maar nog steeds met al die wonderlike dinge van Suid-Afrika nie. Nieu-Seeland is 'n ander land, met ander wonderlike goed en ander probleme."

Dit dien geen doel om lyste op te stel vir en teen elke plek nie: Een punt vir SA vir die Bosveld, een punt teen Nieu-Seeland vir die weer, die soort van ding nie. 'n Mens besluit as eerste stap dat jy nie langer in Suid-Afrika kan of wil bly nie. Dan kyk jy na wat die volgende stap is en wat jou volgende beste keuse kan wees, watter land, watter plek, stad of platteland.

Fokus op die groot goed, soos die kinders se toekoms, veiligheid.

Ek sien hoe mense hulself verstringel in nonsens, beuselagtighede en dan daaroor ongelukkig word. Jy gaan altyd orals goed kry wat jou irriteer. Minstens is ons hier in veiligheid geïrriteerd. In 'n neutedop, Nieu-Seeland is 'n normale samelewing, soos SA so 30 jaar gelede was. Daar is tyd om oor kleinighede te bekommer.

Natuurlik mis mens vriende en familie, dis normaal. Daar is nie regtig 'n oplossing daarvoor nie, behalwe om te weet dat dit 'n probleem sal wees en om die verlange met besoeke en e-pos en telefoonoproepe te besweer.

Maar weet dan dat die waarde van 'n gesin in veiligheid, 'n toekoms vir jou saam met jou kinders, en die opsie van 'n goeie lewe elders in veiligheid, die wonderlikste keuse is wat mens ooit kan hê.

Dit is jou besluit of jy wil kies om te gaan of wil kies om te bly. Of selfs om terug te keer na jou land van herkoms, wanneer jy voel dis nie die regte omgewing vir jou nie.

Vir die wat nie daardie keuse het nie, hetsy weens finansiële probleme, familie wat hulle nie kan agterlaat nie, of wat ook al, voel ek bitter jammer. Daar is talle van hulle wat vasgekeer is in moeilike omstandighede in Suid-Afrika wat graag sou wou padgee. Mens hoef nie ver in die straat af te ry in jou BMW om dit te sien nie.

Ons hierdiekant is bewus daarvan, want baie van hulle kom hier aan met niks, en desperaat, en van daardie, word talle teruggewys by doeane omdat hulle nie hul emigrasiesake vooraf in orde gekry het nie. Omdat hulle holderstebolder met hulle laaste geld op die vliegtuig geklim het net om te kan wegkom.

Die lot van vlugtelinge is nie maklik nie.

Louise Pretorius,, Auckland, Nieu-Seeland